Hierdie webinaarreeks is tans net as opnames beskikbaar.
Daar is ses webinare in hierdie reeks -
-
die eerste drie fokus op aspekte van testamente; en
-
die volgende drie op die bereddering van bestorwe boedels.
Aangebied deur Linda Schoeman-Malan.
Hierdie webinaar kyk na gevalle waar daar, na die dood van 'n testateur, 'n ongeldige testament gevind word - 'n testament wat nie aan die voorgeskrewe formaliteitsvereistes voldoen nie. 'n Moontlike aansoek vir die kondonering van die nie-nakoming van formaliteite van die oorledene se "testament" en gevolglike aanvaarding deur die hof van die testament word bespreek.
Wanneer die beredderingsproses (die likwidasie en distribusie van die boedel) begin, is een van die eerste stappe om vas te stel of die testateur 'n testament (geldig verly) nagelaat het.
Sedert die inwerktreding van die Wet tot Wysiging van die Erfreg in 1992, word daar ingevolge die Wet op Testamente aan howe die bevoegdheid verleen om:
- die nie-nakoming van formaliteite vir die verlyding en wysiging van testamente (ingevolge artikel 2(3)) te verskoon (kondoneer); en
- sekere handelinge as effektiewe herroepingswyses te sanksioneer (ingevolge artikel 2A).
Hierdie wysigings aan die Wet op Testamente het egter gelei tot verwarring en 'n geweldige toename in die aantal sake wat handel met die toepassing en interpretasie van die betrokke artikels.
- Is die testament ongeldig weens onbehoorlike verlyding?
- Kan 'n "ongeldige dokument" 'n "geldige testament" word en kan laasgenoemde dan 'n vorige geldige testament herroep?
- Hoe gaan 'n mens te werk indien die Meester 'n testament verwerp of indien die testament deur 'n potensiële begunstigde betwis word?
- Wat is die posisie as die oorspronklike testament verlore is?
- Wat is die posisie as slegs 'n afskrif van die testament beskikbaar is?
- Het herroeping plaasgevind en hoe kan herroeping vasgestel word?
Hierdie webinaar is van belang vir testament-opstellers, professionele eksekuteurs en trust maatskappye wat betrokke is by die bereddering van bestorwe boedels. Indien jy al met enige van bogenoemde situasies gekonfronteer is sal hierdie webinaar van groot waarde wees. Bywoning van hierdie webinaar belowe antwoorde vir praktisyns op die bogenoemde vrae.
Aangebied deur Linda Schoeman-Malan
Nagenoeg 70% van alle boedels wat by die Meesterskantoor aangemeld word, is intestate of gedeeltelik intestate boedels. Dit beteken dat 'n boedelpraktisyn 'n duidelike begrip moet hê van die beginsels in die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987 wat intestate erfopvolging reguleer.
Sover dit die oorblywende 30% van boedels betref, moet 'n praktisyn ook in staat wees om sy of haar kliënt by te staan om 'n akkurate en geldige testament volgens die kliënt se wense en in ooreenstemming met die vereistes van die Wet op Testamente, No 7 van 1953, op te stel.
- Die opstel en verlyding van 'n enkele of gesamentlike testament vir 'n kliënt(e);
- Die moontlike inhoud van testamente en die vestiging van regte in geval van instellings soos substitusie, fideicommissum, vruggebruik of 'n trust mortis causa;
- Die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987, wat toepassing vind indien iemand se testament ongeldig is, of daar nie aan die persoon se testament gevolg gegee kan word nie, of indien die persoon slegs sekere van die bates in 'n testament bemaak het; en
- Ander belangrike aspekte van intestate erfopvolging, soos die invloed van die huweliksgoederebedeling, langslewende eggenote(s), representasie en onwaardigheid.
Hierdie webinaar is van belang vir, en sal tot voordeel wees van testament-opstellers en eksekuteurs, asook finansiële en trust instansies wat met bestorwe boedels werk. Dit dien as riglyn om potensiële slaggate wat verband hou met die behoorlike opstel van testamente en die toepassing van die beginsels van intestate erfopvolging, waar van toepassing, te vermy.
Aangebied deur Linda Schoeman-Malan
In die era waarin ons leef, word mense ouer en ryker. Testeervryheid word hoog aangeslaan. Familiegeskille wat met die testeerbevoegdheid van 'n bejaarde, weerlose persoon (wat lei aan demensie of Alzheimer's), liggaamlik gestremde of verswakte testateur verband hou, het die afgelope jare toegeneem.
Wanneer 'n familielid of kliënt 'n testament wil verly moet daar aan die voorgeskrewe vereistes en toets vir testeerbevoegdheid voldoen word. Dit is veral so wanneer 'n testateur reeds 'n hoë ouderdom bereik het. Daar is spesifieke addisionele vereistes wat geld tydens die verlydingsproses. Die rol van 'n testament-opsteller om, deur die gebruikmaking van verskeie moderne toetse, vas te stel of 'n potensiële testateur oor die nodige testamentêre vermoë beskik, het van groter belang geword.
- Situasies waar 'n bejaarde of gestremde persoon 'n testament wil verly;
- Statutêre bepalings rakende testeerbevoegdheid;
- Testeerbevoegdheid en vermoë van kwesbare persone;
- Verskeie toetse wat ontwikkel is om testeerbevoegdheid vas te stel;
- Hulpverlening aan verswakte of ongeletterde persone tydens verlyding;
- Die beginsels van onbehoorlike beïnvloeding en hoe 'n eksekuteur 'n onwaardige begunstigde se proporsionele aandeel moet hanteer; en
- Gelyktydige sterftes.
Hierdie webinaar strek tot voordeel vir professionele persone en individue wat probleme ondervind, of kan ondervind, met testamente van bejaardes of ander kwesbare mense. Indien die nodige voorsorg tydens verlyding aan die dag gelê word, kan dispute voorkom word.
Aangebied deur Linda Schoeman-Malan.
Sommige boedels neem letterlik jare om gefinaliseer te word, en begunstigdes raak dikwels gefrustreerd en ongelukkig met die eksekuteur en die pas waarteen die administrasieproses vorder.
Die proses om die likwidasie- en distribusierekening op te stel word dikwels onderbreek deur 'n aansoek by die Hooggeregshof om sekere regsaspekte wat verband hou met die administrasie en afhandeling van die boedel uit te klaar.
Soms word die optrede van die eksekuteur, of besluite wat die Meester geneem het, bevraagteken. Die eksekuteur of die Meester word gewoonlik as 'n party by 'n hofsaak ingetrek.
In hierdie webinaar is die fokus op die regsaspekte wat van toepassing is tydens die bereddering van 'n bestorwe boedel, terwyl Seminaar 5 op die praktiese administrasie van 'n bestorwe boedel fokus.
- Wie word die eienaar van 'n oorledene se boedel net na die oorledene se dood?
- Hoe gou kan die eksekuteur met sy/haar voorlopige take begin?
- Die beplanning van die likwidasie en die vind van 'n geskikte metode van likwidasie.
- Voorskotte aan begunstigdes en onderhoudseise in terme van die Wet op die Onderhoud van Langslewende Gades 27 van 1990.
- Verwydering van die eksekuteur deur die Meester of 'n hoër hof, op gronde gelys in artikel 54 van die Boedelwet 66 van 1965.
- Besware teen die boedel, of gemeenregtelike eise en artikel 35 van die Boedelwet.
Persone wat as eksekuteur aangestel of benoem is, of enige persoon wat betrokke is by die administrasie van bestorwe boedels, sal voordeel trek uit hierdie webinaar. Professionele eksekuteurs, rekenmeesters, ouditeurs, finansiële en trust instellings en ander professionele persone wat praktiese probleme ondervind tydens die likwidasie van 'n boedel sal die webinaar besonder nuttig vind.
FISA-lede ontvang CPD-punte vir bywoning.
Aangebied deur Jannie Rossouw.
Enige boedeladministrateur sal weet dat daar 'n veeltal klein (of groter) praktiese probleme is wat hy of sy tydens die administrasie van 'n bestorwe boedel kan ondervind.
Hierdie webinaar fokus op hoe sulke probleme hanteer kan word. Dit dien as 'n riglyn vir die hantering van praktiese aspekte van die administrasie van bestorwe boedels, met spesifieke fokus op die dag-tot-dag uitdagings waarteen eksekuteurs hulself kan vasloop.
- Die dokumente en inligting wat benodig word vir die aanvaarding van 'n benoeming as eksekuteur en die rapportering van 'n boedel aan die Meester;
- Die identifisering van die oorledene se bates en laste;
- Die likwidasie van bates;
- Die verteenwoordiging van bates en laste in die likwidasie- en distribusierekening;
- Die hantering van besware wat geopper is teen die rekening;
- Die oplossing van geskille en konflik tussen erfgename of begunstigdes;
- Die Ontvanger van Inkomste (SAID) en elektroniese indiening van opgawes ("e-filing"); en
- Boedelbelasting, inkomstebelasting en kapitaalwinsbelasting voor en na die sterfdatum (die belastings word breedvoerig in Webinaar 6 bespreek).
Persone wat as eksekuteur aangestel of benoem is, of enige persoon wat betrokke is by die administrasie van boedels, sal voordeel trek uit hierdie webinaar. Professionele eksekuteurs, rekenmeesters, ouditeure, finansiële en trust instellings en ander professionele persone wat praktiese probleme ondervind tydens die likwidasie van 'n boedel sal die webinaar besonder nuttig vind.
FISA-lede ontvang CPD-punte vir bywoning.
Aangebied deur Jannie Rossouw.
Bestorwe boedels is sinoniem met belasting.
Terwyl Webinaar 5 oorsigtelik na belasting kyk, fokus hierdie seminaar op verskillende aspekte van inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting, boedelbelasting en skenkingsbelasting.
Die berekening van kapitaalwinsbelasting kan ingewikkeld wees en die nodige kundigheid is noodsaaklik. Sommige administrateurs laat hierdie belasting net eenvouding weg terwyl ander verkeerde berekeninige doen. Dit lei dikwels tot besware van die SAID teen die likwidasie- en distribusierekening, wat weer lei tot vertragings by die Meester om die advertensie daarvan te magtig. Verder beïnvloed dit die boedelbelastingverpligting en die berekening van boedelbelasting. Een verkeerde berekening kan 'n groot uitkringeffek hê.
Hierdie webinaar is gerig op praktiese advies oor hoe om die talle moontlike slaggate te vermy.
Persone wat as eksekuteur aangestel of benoem is, of enige persoon wat betrokke is by die bestuur van boedels, sal voordeel trek uit hierdie seminaar. Professionele eksekuteurs, rekenmeesters, ouditeure, finansiële en trust instellings en ander professionele persone wat praktiese probleme ondervind tydens die likwidasie van 'n boedel sal die webinaar besonder nuttig vind.
- Webinare is as opnames beskikbaar.
- Elke aanbieding word vergesel van 'n omvattende handleiding.
- Die handleiding word elektronies in PDF-formaat gestuur.
- Alle webinare word in Afrikaans en Engels aangebied. (Webinaargangers wat die webinare in Afrikaans bywoon, sal die handleidings in beide Afrikaans en Engels ontvang.)
- Ons in-diepte webinare is goed nagevors. Dit word geskryf en aangebied deur kenners en kundiges in hul veld.
- Met elk van die webinare ontvang jy 'n omvattende stel webinaarnotas wat voorbeelde en verklarende aantekeninge insluit - vir gerieflike latere verwysing.
- Die inligting, begeleiding en advies wat jy hier ontvang, sal vir jou kosbare tyd en geld spaar en sal jou met die kennis bemagtig wat jy nodig het om uit te munt in die praktyk.